RSG se nuwe dokumentȇre reeks


In die dokumentêr “Namakwaland: ‘n Fontein van stories” vat Johan van Lill die pad Namakwaland toe om by ‘n paar storievertellers te gaan kuier. Die stories wat Namakwalanders vertel is nie grappe nie, dis stories oor dinge wat gebeur het en mense wat bestaan het of nog bestaan.

Namakwalandse mense verstaan mekaar en ken mekaar uit aan die name wat hulle vir mekaar gee. Name met stories daaragter. Deelnemers aan die program sluit in Izak Volgraaff, Marana Brand, Jasper Nieuwoudt, Jan “Ponk” van Zyl en Gielie de Kock.

Vir Namakwalanders is stories deel van gesels en kuier. Die namakwalandse storievertellers het hul eie manier om goed te vertel. En dan is die stories ook ryk aan uitdrukkings – uitdrukkings wat net so beskrywend is van die mense as die stories. Die stories is meesal waar of amper waar – alhoewel die storieverteller dit so vertel, dat jy nie vir ‘n oomblik sal twyfel dat hierdie gebeurtenis nie werklik gebeur het of netso was nie! Alhoewel van die stories soms net so snaaks is om regtig te weet of dit waar kan wees of nie!

Meer oor die storievertellers:

Marana Brand is ‘n boorling van Loeriesfontein en woon deesdae in Kaapstad. Sy is ‘n bekende joernalis, redaksionele konsultant en kopieskrywer wat in die Namakwalandse storievertel-kultuur grootgeword het.

Meer oor die dokkie seisoen

RSG se volgende dokumentȇre reeks begin vroeg in die nuwe jaar en verken verskeie ongewone onderwerpe. Van saffraan tot storievertelling, blommeverkopers tot die Broers, van ‘n diep donker web tot Duimpie Bayly.

Altesaam tien joernaliste en aanbieders doen al maande lank navorsing om uiteenlopende stories van mense en gebeurtenisse te verstaan en vir radio te verwerk.

In die reeks kan jy luister na Johan van Lill wat Namakwaland besoek om die storievertellers van ouds op te spoor, Martelize Brink ondersoek die Kunste Kaap se 50 bestaansjare en Heindrich Wyngaard beskou die spesiale vriendskap tussen Adam Small en Jakes Gerwel. Ander joernaliste het die lang pad aangedurf om stories van pionierdigters in Afrikaans, die nuwe lewenswyse agter maskers en buitengewone stories van kunstenaars nader aan luisteraars te bring.

Verder is buitengewone leefstylonderwerpe ook in die reeks vervat.

Die programreeks skop op 6 Januarie 2022 af en sal vir 13 agtereenvolgende weke op Donderdae om 20:00 uitgesaai word.

Hou www.rsg.co.za dop vir volledige inligting.

Inligting oor die eerste vier dokumentêre van 2022:

6 Jan Johan van Lill In die dokumentêr “Namakwaland: ‘n Fontein van stories” vat Johan van Lill die pad Namakwaland toe om by ‘n paar storievertellers te gaan kuier. Die stories wat Namakwalanders vertel is nie grappe nie, dis stories oor dinge wat gebeur het en mense wat bestaan het of nog bestaan.

13 Jan Ina Stydom ‘n Argiefdokkie oor CM van den Heever wat aanstaande jaar 120 jaar gelede gebore is.
20 Jan Johan Rademan Broers – van gister tot vandag.
n Kykie na die doen en late van die sanggroep Broers en hul invloed en bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf.

Cobus en Christo Snyman

27 Jan Jody Hendricks Die diep donker web.
Die donker web is vol geheime, onwettighede en onheilighede. Drie kundiges ontsluit dié deel van die internet wat nie maklik toeganklik is nie, vir ons.