Dokkie: Hoe gaan dit met Sylvester, die wêreldberoemde wegloperleeu?


Meer as ses jaar gelede was die land in rep en roer oor Sylvester die leeu wat uit die Karoo Nasionale Park ontsnap en 27 dae lank lyf kon bly wegsteek tot hy uiteindelik opgespoor, gedoof en terug geneem is na die park.

Skaars ‘n jaar later het Sylvester egter weer ontsnap. Toe moes daar dringend plan gemaak word, ander sou ‘n doodskoot sy voorland wees.

Maar hoe gaan dit deesdae met Sylvester, jeuk sy voete nog vir wegloop?

Mariska Spoormaker het gaan uitvind en dié dokumentêr oor sy reis van wegloper-leeu tot koning van sy trop, saamgestel. Luister Donderdagaand 23 September net ná 20:00 na die storie van Sylvester.

Luister na die volledige dokumetêr:

Sylvester, ses jaar gelede wegloopleeu uit die Karoo Nasionale Park, nou koning van die veld in die Kuzuko-wildreservaat. FOTO Heilie Combrinck.

Om uit te vind, moet ‘n mens na die Kuzuko-wildreservaat naby Somerset-Oos gaan, want dit is hièr waar Sylvester, nadat hy in 2016 vir ‘n tweede keer uit die park gebreek het, hervestig is.

Tog moet in gedagte gehou word dat die hervestiging van ‘n leeumannetjie kan faal as sekere stelsels nie in werking gestel word nie, sê Gerhard de Lange, algemene bestuurder van die Kuzuko-wildreservaat. Gerhard is die man wat alles in sy vermoë gedoen het om Sylvester só by Kuzuko in te burger dat hy nooit weer die pad sal wil vat nie.

Om dìt moontlik te maak, was dit onder meer belangrik om Kuzuko se twee ouer leeumannetjies, Matt en Kalahari, later te verskuif. Ouer leeumannetjies jaag die jonger mannetjies (soos Sylvester destyds in 2015, 2016) tot teen die reservaat se drade en sal daar met hulle afreken as die geleentheid hom voordoen, verduidelik Gerhard.

Sylvester het in sy drostertyd buite die Karoo Nasionale Park nagenoeg 371 kilometer geloop. Die veldwagters, spoorsnyers en bwaringsbeamptes wat hom in hierdie 27 dae gesoek het, het hom eers Spook genoem omdat hy letterlik soos mis voor die son kon verdwyn.

Toe Sylvester in 2016 weer uit die Karoo Nasionale Park gebreek en hy steeds n doodskoot gespaar is, was daar ‘n kollektiewe sug van verligting onder sy aanhangers wêreldwyd. FOTO Heilie Combrinck.

In daardie tyd het hy oor altesaam  27 plase geloop en het 28 skape, een Nguni-koei en een koedoe platgetrek.

Ondanks hierdie skade, was die oorheersende gevoel dat Sylvester nie die doodskoot moet kry nie. Toe hy uiteindelik gevang en terug in die Karoo Nasionale Park geplaas is, was daar ‘n kollektiewe sug van verligting onder sy duisende aanhangers wêreldwyd.

“Ek glo Cecil, die legendariese leeumannetjie van Zimbabwe, het gehelp om Sylvester se lewe te red,” sê Gerhard. “Daar was baie groot ontsteltenis toe Cecil deur ‘n Amerikaanse trofeejagter doodgeskiet is, en daarom glo ek daar is so baie moeite gedoen om hom lewend te vang en lewend te hou.”

Maar die volgende  jaar (2016) speel Sylvester wèèr met die dood toe hy vir ‘n tweede keer uitbreek om weg te kom van die ouer leeumannetjies in die park wat hom bedreig.

“Iets het in my geroer toe ek dit hoor,” onthou Gerhard daardie dae nog baie goed, “ek het geglo sy lewe sal gered kan word as hy in die regte omstandighede geplaas sou word.”

Op daardie stadium was die Kuzuko-wildreservaat se omstandighede nie gunstig nie, aangesien, soos vroeër genoem, die twee ouer leeumannetjies Matt en Kalahari nog daar was. Boonop was die twee jonger leeuwyfies Angel en Nicka ook op Kuzuko – dus die ideale elemente vir n volgende konflik met ouer leeumannetjies wat Sylvester weer op die loop sou kon sit.

Nadat Gerhard die groen lig vir die hervestiging van Sylvester in die Kuzuko-wildreservaat gekry het, sou die dinamika tussen Sylvester, Matt en Kalahari dus, asook die leeuwyfies, baie nou gemonitor moes word.

Deel van die onderhandelings met Sanparke was dat Sylvester ‘n koalisiemaat (‘n ander leeumannetjie) sou moes kry, want wanneer ‘n leeumannetjie in ‘n koalisie gebind is, is die kanse skraler dat hy sal probeer uitbreek en vlug van die reservaat omdat hy alleen en daarom kwesbaar teenoor ander leeumannetjies voel.

Sylvester en sy koalisiemaat Fielies. FOTO Heilie Combrinck

Maar vir eers sou Sylvester alleen na Kuzuko gebring word. Twee weke voor sy aankoms was sy boma, waar hy aan sy nuwe omgewing gewoond moes raak, al voltooid. Sylvester, toe nog op sy eie as jong leeumannetjie, het stadig maar seker by sy nuwe omstandighede aangepas, maar het ook gewys dat vlakvark gewis nie op sy spyskaart is nie.

Nog ‘n interessante verwikkeling was dat die jonger leeuwyfies, Nicka en Angel, ‘n belangstelling in Sylvester begin toon het en selfs met hom al langs die boma begin stap het. Daarenteen het die twee wyfies enige kontak met Matt en Kalahari, die twee oue leeumannetjies wat reeds op Kuzuko was, probeer vermy.

Matt en Kalahari het Sylvester van ‘n afstand stip dopgehou. Gerhard skryf in sy boek Sylvester – Vagabond to Lion King, dat hy juis die bedreigende teenwoordigheid van die ouer leeumannetjies wou benut wanneer Sylvester se potensiële koalisiemaat uit die Addo-olifant nasionale park sou opdaag.

“Dit kan tot drie jaar vir leeumannetjies neem om ‘n koalisie te vorm. Ek het my hoop daarop gevestig dat die bedreigende teenwoordigheid van Matt en Kalahari die bindingsproses tussen Sylvester en die ander jong leeumannetjie vinniger sou laat geskied,” skryf Gerhard.

Uiteindelik is Sylvester se nuwe maat – Fielies –uit die Addo-olifant nasionale park na Kuzuko gebring. Beide Sylvester en Fielies is gedoof sodat hulle saam in dieselfde boma kon wakker word.

“Sylvester het eerste wakker geword en aan die karkas wat in die boma uitgeplaas is, begin vreet. Toe die jonger Fielies wakker word, het hy by Sylvester gebly en ook aan die karkas begin vreet.”

Die binding tussen die twee leeumannetjies het al hoe sterker begin word. Nicka en Angel, die twee leeuwyfies, het ook al hoe meer kom kuier langs die boma-heining. Diè gekuiery het Matt en Kalahari, wat dit van ‘n afstand dopgehou het, jaloers aan die gebrul gesit – iets wat die binding tussen Sylvester en Fielies inderdaad  bespoedig het.

Op Kuzuko-wildreservaat in die Karoo is daar duisende hektaar vryheid vir Sylvester die die drosterleeu uit die Karoo Nasionale Park en sy trop. FOTO Heilie Combrinck

Die laaste goeie merker waarvoor Gerhard gewag het voor hy Fielies en Sylvester uit die boma sou kon vrylaat, was vir die twee om ook te begin brul.

“Sylvester het eerste begin brul. Dit was ‘n duidelike teken dat hy die regte boodskappe aan die ouer leeumannetjies begin uitstuur, naamlik dat hy die terrein as sy eie beskou en dat hy reg is om hulle daaroor uit te daag,”  skryf Gerhard.

Toe Fielies òòk op 8 November 2016 begin brul het, het Gerhard geweet hy en Sylvester is reg om uit die boma gelaat te word. Die twee het ‘n koalisie gevorm, die wyfies stel in hulle belang en hulle sien kans om as koalisie die twee ouer leeumannetjies, Matt en Kalahari, aan te pak.

Maar om diè konflik te vermy, is Matt en Kalahari eers na Kleinvlak, ‘n seksie van die Addo-olifant nasionale park verskuif en toe na die Darlingtondam-gedeelte van die park.9

Die res is, soos die mense sou sê, geskiedenis: Sylvester die wegloopleeu uit die Karoo Nasionale Park, se voete sou nooit meer jeuk nie, want hier is hy  nou, Koning van die veld met sy koalisiemaat Fielies en sy wyfies Nicka en Angel.

Om ses jaar nà sy ontsnapping Sylvester met sy trop in die veld van die Kuzuko-wildreservaat dop te hou, is soos om ‘n film raampie vir raampie terug te rol en te kyk na sy twee ontsnappings en sy uiteindelike hervestiging op die Kuzuko-wildreservaat naby Somerset-Oos in die Oos-Kaap.

En dan sit jy terug en kyk èn kyk na Sylvester, die hoofkarakter in een van die mooiste dieresprokies wat in die ware lewe gebeur het.

Dit is só spesiaal, só Suid-Afrikaans.

Hierdie bakkie was so deel van die leeuwy fies se inbrugering op Kuzuko dat hulle jare later steeds die bakkie as deel van hul trop beskou. FOTO Heilie Combrinck.

Gerhard de Lange, hier by sy vrou Catharina, is die leeukenner wat daarin geslaag het om Sylvester die drosterleeu suksesvol in die Kuzuko-wildreservaat gevestig te kry. Foto: Heilie Combrinck.

Besoek www.kuzuko.com vir meer besonderhede, ook oor die boek Sylvester, Vagabond to Lion King. Jy kan ook 042 203 1700 skakel vir meer inligting of ‘n Whatsapp stuur na 063 681 3552 . Die e-pos adres is kuzuko@legacyhotels.co.za

 

Lees meer oor Sylvester en sy trop:

Sylvester word 8 jaar oud!

Sylvester word 8 jaar oud!

Uitsonderlik: Die storie van Angel en Nicka

Sylvester se seuns word groot

Sylvester en sy trop

Gamka en Kambro is 1 jaar oud

Sylvester is pa van 2 welpies!